Om meer te kry as waarvoor ons gevra het – Markus 5

As jy aan die vrou, wat aan bloedvloeiing gely het, dink… Wat is die beeld wat in jou kop opkom? In my kop sien ek hierdie statige, trotse ferm vrou. Die tipe wat geloof het wat jou sommer van groter dinge laat droom.

Ons sien sy was al ‘n geruime tyd siek gewees en sy het alles so menslik as moontlik probeer. Sy het ‘n paar dokters besoek wat haar toestand net vererger het. ’n Vrou was onrein geag as sy aan bloedvloeiing gely het. Sy kon eintlik nie in die samelewing wees nie. Orals waaraan sy raak, word as onrein geag. Ons kan onsself indink hoe hierdie siekte nie net fisies nie, maar haar ook psigies en geestelik negatief beïnvloed het.

Die vrou gee nie op nie. Hierdie naamlose vrou besluit om ons Here Jesus op te soek. Selfs al kon sy net aan Sy kleed raak. Ons lees hoe sy vasberade deur die skare beur en aan Hom raak.

Is hierdie vrou nie ’n raakvat beskrywing van hoe ons eintlik is nie? Om naamloos, seer, siek, moedeloos, geestelik verarm, met sonde bevlek en om net deel te wees van ‘n gemeenskap, is een groot stryd.

Leer by die naamlose vrou. Druk deur die skare, kyk verby hul, moenie rondkyk en ophou glo of moed verloor nie. Een ding op jou brein en dit is ons Here Jesus Christus. Jy sien, sy raak aan Hom en word gesond. Maar onse Here Jesus stel die situasie so op dat sy uiteindelik voor hom moes buig en bely dat dit sy was wat aan Hom geraak het. Ons Here Jesus raak haar aan – alhoewel die Bybel nie sê of Hy aan haar skouer gevat het nie. Dit was nir vir Hom eers nodig om aan haar te raak nie, want Sy woorde het haar genees – dieper en breër as wat sy kon dink. Haar geloof het haar gered.

Matt11: 28“ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed.”