OOR ONS

Wie is Ons? 

#dieKruis is ‘n onafhanklike gemeente wat regtig lief is vir God en vir die stad Pretoria. Ons wil graag soveel as moontlik mense bereik met die Evangelieboodskap. Ons glo in God Drie-Enig en dat Hy ons stuur en toerus om dissipels in te win.

Dit is ons roeping: Ons hoop om nog baie kerke te plant wat dissipels oplewer. DieKruis is Afrikaanstalig en ons streef om Bybelgetrou (Gereformeerd) te handel. Soos jy beleef het, wil ons graag ook Geesgedrewe leef soos die woord ons beveel.

By #dieKruis hoef jy nie sondeloos te wees om deel te word nie, jy het ook nie nodig om die Bybel vers vir vers te kan opsê voor jy as kind van die Here erken word nie.

Om bietjie by Augustinus te steel:
“Ons is slegs arm bedelaars wat in genade die brood van die lewe ontvang het en dit opgewonde wil deel met ander.”  Dus nooi ons jou uit om te ontspan, die masker af te haal en saam met ons in verwondering die skatte van God in sy  Woord te ontdek en die genadige liefde van God die Vader in ons Here Jesus te beleef.

Wat kan jy Verwag? 

Ons glo vas dat Christenskap ‘n sewe-dae-‘n-week ding is. Ons wil graag ons lidmate help om vir sewe dae ‘n week geestelik te verkeer met God en Sy geloofsfamilie (-gemeente). Ons wil ook ons lidmate bystaan om ‘n lig in die werksplek te wees. Die ruggraat van dit alles is dissipelskap.

Wat kan jy verwag by die Kerk Diens?

voel tuis by dieKruis

Los jou beursie by die huis en kom net soos jy gemaklik is – skoene vir die kinders is heeltemal opsioneel! Want wie wil met kinders stoei wanneer jy uitsien na ‘n lekker koffie voor ons saam sing, bid en dink? Voor- en laerskoolbediening vind tydens die diens plaas en die tieners kom net na die diens bymekaar terwyl jy ‘n tweede koppie koffie kry! As jy nog ‘n babatjie het, is jy in goeie geselskap en baie welkom!

Kom soos jy is, trek aan wat vir jou gemaklik is, of dit ‘n kortbroek of ‘n knopies hemp is!

Jesus het ons almal se Kruis kom dra 

Ons sien dit as deel van dieKruis se roeping om die voorbeeld te volg en mekaar se laste en vreugde te deel en te dra.

Nie net vir Sondae nie 

Ons glo dat Christenskap nie ‘n Sondag-ding is nie. Sondag is bloot die eerste dag van die week. Ons ontmoet dus gereeld ook in kleiner groepe (ons noem dit Kruispunte). Ons Kruispunte is daar sodat ons mekaar kan leer ken en vertrou. Dit is ‘n plek waar mense dikwels die eerste keer ervaar dat God ander mense se hande en voete gebruik om uitkoms en liefde te gee. Dit is ‘n plek waar jy altyd raad en bemoediging kan kry om met vrymoedigheid met die mense op ons paaie te gesels oor die Here se redding

Ontmoet die Span! 

TIAAN JORDAAN

Ds. Tiaan Jordaan het ‘n Meestersgraad in Teologie aan die Universiteit van die Noord-Wes. Hy is sedert 2007 in die bediening en spesiliaseer verder in traumaberading. Sy roeping is kerkplanting en hy het sy opleiding deur die Redeemer-netwerk gedoen. Tiaan en Marietjie is 15 jaar getroud en het drie kinders.

E-pos adres: tiaan@diekruis.co.za

HERMAN KLOPPERS

Herman is ‘n ouderling by dieKruis gemeente en het teologie en pastorale berading studeer en meer as tien jaar ondervinding. Hy het ‘n besondere aanleg in pastorale traumaberading, huweliksberading en kinderberading. Kry by Herman ‘n veilige oor en raad vir jou huwelik, ouerskap en jou geloofspad.

E-pos: herman@diekruis.co.za

SORIA WEPENER

Soria is verantwoordelik vir bemarking en projekte by dieKruis. Sy is getroud en ma van twee oulike seuntjies.

Gereelde Vrae

WAT GLO ONS?

Ons glo dat:

– Daar een God is wat vir ewig bestaan in drie persone, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees. Ons glo dat die Seun aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan het, dat Hy na die hemel opgevaar het en weer na die aarde sal terugkeer om as Regter te oordeel oor alle mense;

– Die Bybel die geïnspireerde, onfeilbare en gesaghebbende Woord van God is;

– God in ‘n verbondsverhouding alle sfere van die mens se bestaan beïnvloed;

– Daar ‘n sondeval was en dat dit ‘n universele sondeskuld tot gevolg gehad het;

– Die verlossing van die skuld, die straf en die mag van sonde, slegs deur die opofferende dood van Jesus Christus as ons verteenwoordiger en plaasvervanger verkrygbaar is;

– Dit, vir die redding van sondige mense, noodsaaklik is dat die Heilige Gees nuwe lewe in die mens genereer wat hom in staat stel om hom tot God te bekeer en in Jesus Christus te glo;

– God die Kerk stuur om die wêreld in sondenood te bereik met die verlossende Evangelieboodskap van onse Here Jesus Christus.

Hoekom neem jul nie kollekte op nie?

Alhoewel ons glo dat die Bybel leer dat Christene ‘n deel van hul inkomste moet gee aan die gemeente, wil ons dit duidelik maak dat dit nie by dieKruis gaan oor jou beursie nie. God maak aanspraak op jou hele lewe en ons glo dat HY die middele sal verskaf om ons lidmate te versorg.

Is julle “lone-rangers”?

Alhoewel ons nie amptelik deel is van enige kerkverband nie, is ons deel van ‘n netwerk van kerkplantende kerke in Pretoria. Ons staan saam bekend as die Union en is ook deel van ‘n breër netwerk van kerkplantende kerke wat bekend staan as City to City (Vroeër bekend as Redeemer City to City).

Tiaan Jordaan: (082) 521 0480

Atterbury teater, Lynnbridge Sentrum, 4 Daventry St, Lynnwood Manor, Pretoria

Volgende diens begin:

Day(s)

:

Hour(s)

:

Minute(s)

:

Second(s)