Om die Here te soek ten spyte van die skare – Markus 5

In die reeks se vorige boodskap het ons gesien hoe God sy hart teenoor ons oopvlek. Hy is sagmoedig en nederig. God wil hê ons moet na Hom toe kom. As Vader vir Sy kinders staan Hy met ope arms vir ons reg. Hy is daar vir ons en Hy is beskikbaar.

Vandag brei ons hierop uit. As ’n predikant van ‘n jong gemeente, wat poog om mense te bereik wat nie in ‘n kerk of geloof gemeenskap is nie, maak ek daarvan ’n punt om na elke mens te luister met die intensie om die rede te verstaan waarom hul nie deel van ’n geloofgemeenskap is nie. ’n Hartseer en gemene rede, wat ek in die gesprekke optel, is dat hierdie gelowiges seergekry het by die plek waar hul genesing en na God gesoek het. Die vervreemding uit die kerk, gaan nie soseer oor dit waarvoor die kerk staan nie, maar eerder die mense in die kerk. Die mense wat hul moes lei na God, is die mense wat hul weggetrek het van God. Dis asof die mense hul geloof vlammetjie laat wegkwyn het.

Tog is daar nog ’n gemene rede: Daar is ’n verlange na aanbidding, geloofgemeenskap en ’n hunkering om saam met God se kinders in God se strukture, i.e. die Kerk of die gemeente te wees, te dien en te aanbid. As ek régtig mooi luister, tussen al die wegskram van kerk af en nie kerk toe gaan nie, is daar ’n verlange na kerk, want dit is wat die Woord van God wat ons leer wat gebeur met die kinders van God. Dit is God die Heilige Gees wat volgens Handelinge 2 in die harte van gelowiges werk om hul by te voeg by die gemeente van Christus. As jy buite die geloofgemeenskap staan en nie meer kerk toe gaan nie met die wete dat die Heilige Gees steeds in jou is, sal jy ‘n hunkering, ‘n onblusbare verlange en ‘n soeke na ‘n geloofgemeenskap hê, waar God die Heilige Gees jou gaan trek om kerk toe te gaan. Ons lees al so vroeg soos Hebreërs dat gelowiges begin wegbly het. Ons weet, want in Hebreërs 10:25 maan die skrywer dat die gelowiges nie van die gemeente byeenkomste moet wegbly soos sommiges al daarvan ‘n gewoonte gemaak het nie. So daar was Christene, wat deur God die Heilige Gees gesien het as Christene en deur die gemeente erken was as deel van hul, wat wegbly van die kerk af.

Vanoggend se boodskap is vir jou wat seergekry het in die kerk en wat nie meer kans sien om te gaan nie – al voel jy die trek en verlange in jou hart om te gaan, omdat jy net nie kans sien vir die skare gelowiges nie.

In Markus 5 sien ons twee mense, ‘n skare en God. Die eerste mens waarop ek wil fokus is die vrou wat aan bloed vloeiing gelei het. In ‘n sekere sin mag sy nie meer deel van die geloofgemeenskap wees nie, omdat sy onrein is. Oral waar sy kontak maak, versprei sy die onreinheid. Hier kom hierdie vrou doelgerig en vasbeslote om aan ons Here Jesus te raak. Om vir ‘n oomblik in ons Here Jesus genadige genesende teenwoordigheid te wees. Sy weet sy mag nie daar wees nie, die skare weet sy mag nie daar wees nie, ons Here Jesus weet sy mag nie daar wees nie. Vir ‘n oomblik skree haar hart hard genoeg om al hierdie stemme uit te doof en met vroue-moed druk sy deur die skare en raak ons Here Jesus aan. Sy word genees en sy word rein.

Ons is soos hierdie vrou, nie waar nie? Ons weet eintlik wat die probleem binne ons is, eintlik is dit ons wat onreinheid versprei. Ja, die gemeenskap soos in die vrou se verhaal speel dalk ‘n groot rol om die wond dieper seerder en vuiler te maak, maar dit is ons wat ten diepste nie in heiliges se teenwoordigheid kan wees nie, ons wat nie in God se teenwoordigheid kan wees nie, tensy ons aangeraak word deur onse Here Jesus Christus.

Jy sien, God kyk haar diep in die oë nadat Hy haar kans gegee het om haar hart met Hom te deel en Hy sê nie vir haar, jy is nou genees nie, Hy sê jou geloof het jou gered. Dit wat ons weghou van God is juis dit wat Hy gebruik om ons na Hom aan te trek. Hy is die een wat ons skoonwas, Hy is die Een wat die wat vermoeid en belas nooi, “kom na My, Ek gee rus.”

Hou op om na die skare te luister en gaan Sondag na Hom. Luister na God se woorde, kom!