Neem jou rol op…

Dit is vandag die norm om te sê: “Ek hoef nie te verander vir die wêreld om my nie, ek is perfek nes ek is en die wêreld moet verander om my te aanvaar”. Dit is gevaarlik en ‘n leuen. Ja, jy is volgens God se beeld geskape, maar dit beteken nie dat jy staties is nie. God is elke dag besig om jou soos klei te vorm. Soos wat ons gevorm word, verander ons plek en rolle in die samelewing. Ons rolle kan nooit staties wees nie, want dit verander soos wat ons omstandighede verander. Wanneer ‘n mens trou verander jou rol drasties – dit geld ook vir wanneer ’n mens ouer word. Soos wat ons verander, groei ons ook. En selfs al is dit nie altyd lekker om te groei nie, beteken dit nie dat ons dit moet teen staan nie, maar dat ons eerder moet erken dat daar ’n nuwe rol is. Kyk dit in die oë en neem dit op.
Vir ’n ouer is daar sekere verantwoordelikhede wat jy moet neem. Dit is verantwoordelikhede wat, indien nie na gekom word nie, tot slegte nagevolge kan lei – nie net vir jou kind nie, maar ook vir die samelewing waarin jou kind moet funksioneer. Hiermee sê ek nie dat dit altyd net die ouers se skuld is nie, want vandag se samelewing saai ook teenstrydige inligting uit. Soveel so, dat dit ’n ouer se hande kan afkap. Die samelewing het so individualisties geraak, dat ons vergeet wat die Bybel oor rolle sê. Ons kan nie altyd die samelwing om ons verander om ons kind te beskerm nie, maar ons kan dinge in plek stel om ons kinders so ver as moontlik teen die aanslae te beskerm, want al het die wêreld om ons drasties verander, bly jou rol as ouer onveranderd.
Een van die beste rolle, as ouer, is om jou kind lief te hê, om jou lewensmaat lief te hê en ’n liefdevolle en vervullende huwelik uit te straal. God het die huwelik geskape sodat daar ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou kan wees. Nie noodwendig ter wille van ons geluk nie, maar hoofsaaklik vir die venootskap om God te dien (Coekin, 2015). In Effesiërs 5 en 6 bied Paulus belangrike rolle in verskeie verhoudings aan.

Die eerste rol is die verhouding tussen man en vrou. Wees onderdanig aan mekaar, uit ontsag vir Christus. 22 Vroue, wees onderdanig aan julle mans, soos aan die Here, 23omdat die man die hoof is van die vrou, soos Christus ook hoof is van die kerk; Hy is Verlosser van die liggaam. 24Maar soos die kerk onderdanig is aan Christus, so ook moet die vroue in alle opsigte aan hulle mans onderdanig wees. 25Mans, julle moet julle vroue liefhê, soos ook Christus die kerk liefgehad het en Homself ter wille van haar oorgegee het, 26sodat Hy haar kon heilig, deurdat Hy haar gereinig het deur die was met water en die woord. 27Dit het Hy gedoen, sodat Hy vir Homself die kerk in heerlikheid daar kan stel, sonder vlek of rimpel of enigiets dergeliks, heilig en sonder smet. 28Net so is die mans verplig om hulle eie vroue soos hulle eie liggame lief te hê. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief. 29Niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie; inteendeel, hy voed en koester dit, soos Christus sy kerk. 30 Ons is immers lede van sy liggaam. 31“Om hierdie rede sal ‘n man sy vader en moeder verlaat, en hom aan sy vrou verbind – en hulle twee sal een vlees wees.” 32 Hierdie geheimenis is groot; ek sê dit met verwysing na Christus en die kerk. 33Maar dit geld ook vir een en almal van julle: Laat elkeen sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet; en laat die vrou haar man eerbiedig. Vrouens moet aan hulle mans onderdanig wees. Die oomblik wanneer ‘n mens, in vandag se tyd, so iets noem, sal jy ‘n paar- snaakse kyke ontvang. Dit beteken nie dat die Bybel verkeerd is nie, inteendeel, dis die wêreld wat hierdie beeld heeltemal skeef gedraai het. Ons is geskape volgens die beeld van God-Drie-Enig en die huwelik is gemaak om hierdie beeld uit te dra. Christus is onderdanig aan God die Vader se autoriteit – wat ‘n mens kan sien wanneer Hy in die tuin van Gethsemane bid, dat as dit die Vader se wil is, die beker verby Hom sal gaan, maar volgens God se wil en nie Syne nie (Matteus 26:39). Dit beteken egter nie dat Hy minderwaardig teenoor God is nie. God die Seun is in gelyke waarde aan God die Vader. Dis wat dit beteken om vrywillig aan jou man se gesag onderdanig te wees, eerder as om te voel dat jy minderwaardig teenoor hom is. ‘n Vrou kan verskillende rolle bekleë waar haar vlak van gesag verskil. ‘n Vrou is onderdanig aan haar man, die kerkraad en haar werkgewer, vanwaar haar kinders en onderdane by die werk weer onderdanig aan haar moet wees. Wat ontvang die vrou in ruil vir hierdie onderdanigheid? Kom ons gaan kyk wat Paulus se opdrag aan mans behels…

“Jy moet jou vrou liefhê.” Daardie liefde behels om onder jou man se beskerming in te beweeg maar jy kan dit slegs doen as jy bereid is om onderdanig aan hom te wees.  God het die man en die vrou wonderlik en komplimentêr gemaak. Scott LaPierre verwys in sy boek: “Your Marriage God’s Way” na ‘n studie wat gedoen is om te bepaal hoe belangrik respek vir mans is. Die studie het vir 400 mans gevra of hulle sal verkies om alleen en ongeliefd te voel of verontagsaam en nie genoeg nie. 75% van die mans het erken dat hulle eerder alleen en ongeliefd sal wees as om nie die respek van hul lewensmaat te ontvang nie (LaPierre, 2021). Dieselfde studie wys ook dat ‘n soortgelyke persentasie vrouens eerder verontgsaam en nie genoeg sal voel nie eerder as om alleen en sonder liefde te wees (LaPierre, 2021). Dit beteken nie dat die ander een onbelangrik is nie, want beide mans en vrouens het die behoefte aan respek en liefde, waarvan mans meer na respek smag en vroue na liefde.

Volgende spreek Paulus die rol tussen ouers en kinders aan:
Kinders, wees in die Here aan julle ouers gehoorsaam, want dit is hoe dit hoort. 2“Eer jou vader en jou moeder,” dit is die eerste gebod met ‘n belofte, 3“sodat dit met jou goed mag gaan, en jy ‘n lang lewe op aarde sal hê.” 4En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here. In hierdie gedeelte is dit duidelik dat ouers bo hul kinders as gesaghebbers aangestel is. Dit is belangrik om steeds te besef dat kinders onder ouers staan en ouers onder God. Stel jouself voor dat jy ‘n baie duur, unieke en geliefkoosde hangertjie ontvang het. Jy sal dit tog nie in die kas net los en daarvan vergeet nie. Kinders is nog groter geskenke van ons hemelse Vader (Psalm 127:3). Julle, as egpaar, is bymekaar gebring om ’n kind met die spesifieke gelaatstrekke en persoonlikheid te laat ontstaan. As Christene glo ons dat God alles met ‘n rede doen en dat ons almal op die aarde vir ‘n doel gesit is. Netso is jou kind op hierdie aarde geplaas om hul God-gegewe rol uit te leef. Dit vat ’n gemeenskap om kinders groot te maak – gelukkig is jy omring met ‘n gemeenskap van gelowiges.
In vers 1 beveel Paulus die kinders om gehoorsaam aan hul ouers te wees. Dissipline is ‘n belangrike plig wat ouers nie moet versuim nie. Om kinders te dissplineer is nooit vir ‘n ouer maklik nie, maar dit is belangrik. Ons het reeds genoem dat al ons verhoudinge meer soos God-Drie-Enig moet word. In Spreuke 3:12 verduidelik Salomo dat die Here die mense wat Hy liefhet tug, net soos ‘n vader sy seun sal tug. Dit is dus nie opsioneel nie. Kinders is geneig om op ‘n punt te kom waar hulle, hul ouers se waardes en reëls begin bevraagteken. Hulle distansieër hulself van hul ouers en vind gemak daarin om met hul ouers te argumenteer (Louw & Louw, 2014). Die redes hiervoor is hoofsaaklik as gevolg van die biologiese veranderinge wat tydens puberteit plaasvind, kognitiewe veranderinge en die groei wat hul meer geneig maak om te bevraagteken, argumenteer en na ideale te strewe (Louw & Louw, 2014). Hulle is ook besig om hule eie identiteit te ontwikkel. Hierdie ontwikkeling gaan soms gepaard met rebellie en verhoogde onafhanklikheid (Louw & Louw, 2014). As ouer kan hierdie proses soms uitdagend wees, omdat dit gepaard gaan met konflik tussen die ouers en die kind. Dit is wel belangrik om dissipline te handhaaf, omdat kinders die grense gaan toets. Alhoewel die grense hulle beperk, is dit daar om hulle te beskerm. In ‘n kort rukkie gaan hul uit in die wêreld waar daar baie minder grense is en sal hulle hul eie grense moet bepaal. Daarom is dit belangrik om veilige grense te stel, sodat hulle veilige grense kan uitken en raaksien. Die grense is daar om hulle te beskerm en om hulle liefdevol in die wêreld uit te stuur, waar hulle onafhanklik hul eie grense kan stel. Wanneer kinders op ‘n jong ouderdom reeds die grense verstaan, bied dit ‘n veilige omgewing. Soos ‘n baba wat nie weet dat die hek by die trappe hom sal keer dat hy daar afval nie, weet hy wel dat hy in die huis kan beweeg sonder om seer te kry, want alles wat kan seermaak is deur die ouers weggeneem. Dit is belangrik vir ouers om mekaar te ondersteun in die dissipline wat toegedien word, want inkonsekwentheid skep verwarring en ‘n geleentheid om uitgebuit te word, wat soms nadelig vir die ouers se huwelik kan wees, wat wegneem van hierdie veilige vesting wat vir die kind geskep word. Kinders het gedissiplineerde liefde asook liefdevolle dissipline nodig (Coekin, 2015). Die doel van die toedien van dissipline is om die gedrag te verander en reg te maak (Coekin, 2015). In sy boek Ephesians for You skryf Richard Coekin (2015) van iemand in hul gemeente wat die volgende gesê het:

“You must win that battle of wills, or your child will grow up to find it impossible to take direction from a teacher or employer, and impossible to accept the critique of the Bible at church—you must win that battle!”

Dit is belangrik om aan kinders te verduidelik dat dit God behaag om aan hul ouers gehoorsaam te wees, nie omdat ouers belangriker as kinders is nie (want hul is nie) maar omdat dit deel van van die liefdevolle gehoorsaamheid aan God is (Coekin, 2015). Dit so belangrik dat dit selfs een van die 10 gebooie is.

Wanneer Paulus verduidelik dat vaders nie hul kinders moet uittart nie, bedoel hy dat vaders daarteen moet waak om hulle kinders tot woede uit te lok (Coekin, 2015). As vader en hoof van die husihouding moet jy nie jou kind uitlok tot die pleeg van sonde nie. Jy kan help om hom te beskerm teen die ontwikkeling van hierdie woede of selfs haat wat lei tot die oneer waarteen Paulus hulle waarsku. Waak dus teen te ernstige of onophoudende dissipline, onbillike en harde eise, strydige of onregverdige reëls, konstante kritiek of vernedering of onsensitiwiteit teenoor die verskillende fases van lewe waarin jou kind hom/ haarself bevind (Coekin, 2015). Elke fase het verskillende swakhede, behoeftes en vrese waarmee die kind gekonfronteer word. As ons onthou dat ons ook eens op ‘n tyd kinders was en dat ons Hemelse Vader ook met ons geduldig is wanneer ons uitdaggend en knorrig is, help dit ons om meer simpatie te hê vir die kleiner (minder moreel belangrike) kwessies (Coekin, 2015). In teenstelling hiermee sê Paulus dat vaders eerder hul kinders moet oplei in die Woord van God. Dit is ‘n aktiewe invloed op die gedrag van ons kinders (Coekin, 2015). Vaders moet die tyd vat om Bybel by die huis te lees en bespreek hoe ‘n mens hierdie beginsels tot hul dag-tot-dag lewe moet toepas en jou kind toe te laat om vrae te vra en te praat oor dinge wat hom/ haar pla. Coekin (2015) verwys na 3 dinge wat jy as vader kan doen om die Christelike geloof vir jou kind te leer:
1. Bly getroud (of as jy reeds geskei is, werk na ‘n vredegevulde verhouding met die ander ouer) en wees so veel as moontlik daar vir jou kind – veral met belangrike geleenthede.
2. Moduleer dat jy jou ander helfde liefhet, aangesien kinders leer hoe liefdevolle getrouheid lyk deur wat hul by hul ouers sien.
3. Neem jou kind op ‘n gereelde basis na ‘n goeie kerk waar hulle geleer kan word oor die genade van die Goeie Boodskap vanuit die Bybel, op so ‘n manier dat hulle dit geniet.

Kinders is werklik ‘n geskenk wat opgepas moet word, selfs al lyk dit nie altyd soos wat ‘n mens dink hoe dit moet lyk nie. Wat hulle wil hê en wat hulle nodig het is nie altyd dieselfde nie, daarom het ouers die autoriteit bo die kind en nie anders om nie. Hierdie autoriteit is ‘n seën, maar kom ook met verantwoordelikhede wat nie verontang moet word nie. Dit is nie opsioneel nie en dit is noodsaaklik om hierdie geskenk op te pas. Kinders wat weet hulle het ouers wat lief is vir mekaar, wat oor God leer, wat veilige rolle en grense vasstel en wat konsekwent is, is kinders wat makliker by omstandighede in die samelewing sal aanpas. Kinders moet voel dat hulle iewers in die samelewing hoort, om hulle God-gewe rol uit te oefen. Die hartseer deel van die saak is dat gebroke ouers gebroke kinders kan grootmaak, as iemand nie die siklus breek nie. Ek weet nie uit watter huis jy kom nie, maar sorg dat jy die een is wat die siklus breek.

Bibliografie
Coekin, R. (2015). Ephesians For You. Epsom: The Good Book Company.
LaPierre, S. (2021). Your Marriage God’s Way. Oregon: Harvest House Publishers.
Louw, A., & Louw, D. (2014). Adolescence. Bloemfontein: Psychology Publications.