Hemelvaart: Jesus se troonbestyging

Koning Charles III van die Verenigde Koninkryk het op 6 Mei die Britse troon bestyg. Alhoewel ‘n monarg nie meer soveel mag beoefen in die staatsbestuur soos sy voorgeslagte nie, was dit nogsteeds interessant om die seremonie te aanskou. Die weelde, tradisies en simbole van só historiese oomblik kan baie betowerend wees. Voordat Charles gekroon is moes hy eers ‘n eed aflê waarin hy beloof om die wet te gehoorsaam, die Kerk van Engeland en die Evangelie te bewaar. Hierna is hy gesalf en gekroon en het hy sy plek op die troon ingeneem. Met sy amptelike troonbestyging kan mens nie help om te wonder watter soort koning hy gaan wees nie. Veral in die lig van die beloftes wat hy gemaak het rakende die kerk en die Evangelie. Dit is vroeër jare deur die kerk en die staat erken dat die koning sy mag ontvang vanaf God, en ons lees ook in Romeine 13:1-13 dat niemand kan regeer tensy God dit toelaat nie. In Handelinge 2 en Romeine 8 lees ons dat Jesus aan die regterhand van God die Vader sit, dit beteken dat Jesus regeer, en Hy deel mag uit. Jesus is Koning en ons gedenk weer op die 18de Mei, op Hemelvaartdag, die troonbestyging van ons Here Jesus. Voortdat Jesus die troon bestyg het, het Hy ook aan ons beloftes gemaak, beloftes van redding, vergifnis, krag, Sy teenwoordigheid deur die inwoning van die Heilige Gees en dat Hy weer sal terug kom! Soos wat Jesus opgevaar het hemel toe, sy troon bestyg en sy plek ingeneem het aan die regterhand van die Vader, het ons nie nodig om te wonder watter tipe koning Hy gaan wees nie en of Hy sy beloftes gaan hou of nie. Hy het alreeds aan ons openbaar watter tipe koning Hy gaan wees. Die blote feit dat Hy mens geword het om rebelse mense te red, wys al duidelik watter tipe Koning Jesus is! Hy is ‘n koning wat gedryf word deur die liefde wat Hy vir sy onderdane/kinders/burgers het. Hy wat God is word mens, ly aardse smarte, word verwerp, verraai, verlaat en vermoor! Dit alles om ons te red! Hierdie koning wat deur hel gegaan het om jou te red, dit is Hy wat nou op die troon sit in die Hemel en dit is Hy wat regeer! Dit is ‘n groot troos vir elke Christen, want dit beteken dat maak nie saak wat gebeur hier op aarde nie, Jesus is nogsteeds in beheer. Hy sal net dinge oor jou pad laat kom indien Hy dink jy het dit nodig, en dit kan goeie en swaar tye insluit, maar ons kan rus in die wete dat Hy wat regeer en alles tot jou beswil bestuur. Mens kan ook nou alreeds in Openbaring lees hoe Jesus regeer oor die heelal. Die oomblik nadat Jesus die dissipels verlaat het vervolg in Openbaring wanneer die Lam verskyn in die Troonsaal van God, en die seëls begin oopbreuk! Daar is baie aandag gegee aan die troonbestyging van Charles die afgelope tyd, en dit is eintlik maar ‘n afgewaterde, leë aksie gewees wat nie veel betekenis meer het nie. Die Troonbestyging van ons Here Jesus is daarteen van die grootste belang en grootste troos vir elkeen wat Hom erken as Koning oor die heelal en Koning oor jou lewe!