Jaïrus glo ten spyte van die geraas – Markus 5

Jairus se 12 jarige dogter raak terminaal siek. Jairus besluit om ons Here Jesus Christus te gaan opsoek. Jairus wat deel was van die Joodse geestelike leierskorps was deeglik bewus van ons Here Jesus Christus. Hy het geweet van die skares wat na Hom kom luister. Hy het geweet van die wonders wat ons Here Jesus gedoen het. Die ander geestelike leiers staan teen onse Here Jesus Christus. Jairus besluit om die ongewilde ding te doen, want hy het sy dogter lief en in sy hart weet hy wie ons Here Jesus is. Hy glo dat daar in ons Here Jesus Christus hoop is. Sy geloof maak dat hy die ongewilde ding doen, deur die regte ding te doen. Hy gaan en hy soek ons Here Jesus op.

Onderwyl Jairus en ons Here Jesus in gesprek staan, lees ons dat Jairus se mense aan hom die nuus van die afsterwe van sy dogter gesterf het. Hul probeer Jairus van ons Here Jesus wegkry, want sy is klaar dood. Ons Here Jesus antwoord die groep en sê dat Jairus se dogter nie dood is nie, maar dat sy net slaap. RC Sproul verklaar in hierdie gedeelte dat ons Here Jesus eintlik die taalgebruik van die dag gebruik het om dit sagter te stel. Die kind is nie in ’n koma nie, die kind is dood – menslik gewys. Ons Here Jesus Christus is nie net ’n mens nie, Hy is God en Hy het geweet van wat na die dood gebeur. Afgesien hiervan, het Hy mag oor die dood.

Hy maak tyd vir Jairus deur saam met hom na sy huis te stap waar sy dogter lê. Die skare het die twee gevolg – dit is hier waar die vrou, wat aan bloedvloeiing gely het, deur die skare binnedring om aan ons Here te vat. Ons Here Jesus genees haar. Die onreine raak aan die Reine en die onreine raak rein, die Reine raak nie onrein nie.

Dis dan na die gebeurtenis met die vrou wat die Here Jesus die skare wegjaag. By Jairus se huis ontmoet hul ‘n nuwe skare mense. Hierdie mense was gehuurde wee-klaers. Die Joodse gebruik was om mense te kry om te kom rou by die huis van die afgestorwenes. Hierdie groep mense was professioneel en sien dood vir ’n lewe. Ons Here Jesus se opmerking dat die dogter slaap, maak dat hierdie mense se skynbare rou beklag in ‘n gespottery verander. Hul lag vir Jesus. Dis ‘n bewys dat die kind werklik dood was. Jy sien, vir die kinders van die Here is die dood slegs ‘n deur tot die ewige lewe. Ons weet ‘n mens sterf nooit nie. Die ewigheid is ‘n werklikheid so seker soos die stoele waarop ons sit.

Maar ons Here Jesus raak Jairus se dogter aan, beveel haar om op te staan en beveel die ouers om nie hieroor te praat nie, maar eerder aan haar voedsel te verskaf en vir haar te sorg.

Wat leer ons hieruit?

  1. Ons Here Jesus Christus het altyd tyd vir jou. Maak nie saak waar jy in jou lewe is of wat jou omstandighede is nie, Hy het altyd tyd vir jou.

  2. Die vraag wat jy jouself moet afvra is: Is ek bereid om die ongewilde ding te doen solank dit die regte ding is? Baie keer is die regte ding, die ding wat jou geloofsgemeenskap nie van gaan hou nie. Wanneer die Woord van die Here nie reg en suiwer verkondig word nie, is die kind van die Here gedwing om soos Jairus die besluit te maak of hy die ware Jesus gaan opsoek of eerder vir die skare gaan luister. Ons sien hoe kerke van die belydenis wegstap of in politieke denkgeeste vasval.

  3. Die derde les wat ek hieruit leer is, dat ’n ou soms, ten spyte van die geraas, nog steeds ons Here Jesus moet soek.

  4. Die beste ding wat ‘n Vader/Moeder vir hul kind kan doen, is om hom/haar by onse Here Jesus uit te kry. Dit kan letterlik haar/hom lewe beïnvloed.

  5. Laastens, reageer. Hou op om passief te staan en rond kyk. Blaas bewustelik daai vlammetjie van geloof in jou hart aan. Wees jy die leier wat opstaan en die passiewe mense om jou na die ware Jesus lei.