Herstel na Egskeiding

 

Daar sit sy voor my. Skouers in een getrek deur ‘n verslae gewonde gees. Sy is aangetrek en versorg, goed genoeg om in ‘n direksie vergadering in te stap en te domineer. Haar uiterlike kommunikeer, ek is versorg, ek het dissipline en ek sien kans vir wat kom. Maar dis die oë, die oë, vol pyn; die vonkel, die helder wat dof getrek is, die lewe wat uitgesuig is deur die parasiet wat nes geskrop het in haar hart. Hierdie parasiet het ‘n naam, dis seer, verslaenheid, gebreekte drome en dood.

Dood, want dit is wat gebeur wanneer iemand deur ‘n egskeiding gaan. Die huwelik is dood en daarmee saam die drome. Die saam oud-word, saam kinders groot maak, saam bou aan ‘n huis, ‘n woning. Hierdie verlies bring rou en rou gaan gewoonlik gepaard met wat bekend staan as die 5 fases van rou¹ . Maar hoe lyk die vyf fases deur die bril van die Bybel? Kan die Woord help om hierdie parasiete dood te maak wat so bly vreet?

 

Hoe kom paartjies op die punt van skei?

Voor ons hierdie vraag kan antwoord moet ons vlugtig kyk na van die redes hoekom paartjies op ‘n punt kom waar hul aan skei dink. Ek wil dit waag om te sê dat daar kategories een groot rede is vir die uitrafel van ‘n huwelik. Dit is sonde. Sonde maak dat ons nie die beeld van God uitstraal teenoor ons huweliksmaat nie dit maak dat ons ook nie die huweliksmaat is volgens die potensiaal wat God in ons Here Jesus Christus aan ons gee nie.

Die Bybel leer vir ons dat ons huwelik ‘n prentjie moet wees van die Evangelie boodskap. Soos ons Here Jesus Christus geleef en gesterf het vir Sy bruid, die Kerk, so moet die man opofferend leef vir sy bruid. Hy moet haar liefhê, eer en beskerm. Sy liefde aan haar is kosbaar, nie goedkoop nie, dit verg opoffering. Maar dis tog ook ‘n ten spyte van liefde. Hy het ons lief selfs al verdien ons dit nie, Hy het sy lewe gegee juis omdat ons nie Hom lief kon hê en eer soos ons moet nie.

Wanneer ‘n man nie meer hierdie beeld van opofferend leef teenoor sy bruid straal nie, begin die huwelik se wiele afval. Dis dan wanneer ander vrouens se geselskap aanloklik begin lyk, pornografie ‘n opsie raak, sélf gesentreerde drome alle ander drome begin oorskadu en uitdoof.

Dieselfde is waar van die vrou. Die Bybel leer ons dat die vrou se liefde teenoor haar man, ‘n prent is vir die wêreld van die Kerk (God se kinders) se verhouding tot Hom. Soos die vrou haar man eer, vertroos en vertroetel word sy haarself oorgee aan hom, so doen die kerk. Die kerk se hele kerk-wees draai om God, haar maker, haar man. Dis wanneer hierdie beeld begin skade ly deur watter sondige rede ook al waar die jakkalsies aan die wingerd begin vreet.

‘n Goeie reël is dat mans geëer wil word en vrouens liefgekry wil word.² Wanneer die man homself of ander dinge liewer het as sy vrou en die vrou nie meer die man eer in God nie, kan ‘n huwelik nie werk nie. En dan is die skuldige party besig met sonde teenoor God en teenoor sy/haar huweliksmaat.

Elke daad van ons, hoe goed ons ook al bedoel het, is met sonde bevlek. Jordan Peterson vertel dat wanneer hy en sy vrou nie goed oor die weg kom nie sal hy gaan dink oor sy aandeel in hierdie staat van ongeluk waarin hul verkeer, selfs al voel hy dat hy onskuldig is. Soms is dit 5% aandeel maar God verwag van ons om eienaarskap van daai 5% te neem en wanneer mens lank genoeg daaroor dink sal mens besef dat jou aandeel baie groter is as wat jy aanvanklik gedink het.

Wanneer een of albei partye nie skuld erken of eienaarskap neem van die toestand nie of doelbewus mekaar irriteer of mekaar se “knoppies druk”, is dit ook ‘n manier om aandag te kry en ‘n poging tot selfbehoud, wat selfvernietiging meewerk. Wanneer hierdie toestand sonder bekering, lank genoeg aanhou, sal die huwelik of opbreek of die paartjie onder een dak bly soos ongelukkige, onvervulde, ongetroudes. Hierdie toestand skiet vêr tekort aan die geluk wat God voorsien het vir ‘n huwelik. Dis gewoonlik hier waar fase 1 begin.³

 

Fase 1- Ontkenning

Aan die begin van ‘n egskeiding is dit gewoonlik een of albei partye wat die probleme in die huwelik ontken. Die feit dat egskeiding op hande is, is ook iets wat bewustelik opsy geskuif word. Die tekens van egbreek, of krake in die huwelik word weggeredeneer of verklein. Soms is daar een party wat reeds lank voor die woordjie egskeiding geopper word, bande in die hart en verstand gebreek het. Vir so ‘n persoon kom die fases vroeër as vir die res. Die krake word gewoonlik toegepleister en weggeredeneer as tydelik of nie so erg nie.

Sondes in hierdie fase waarteen gewaak moet word:
God leer vir ons dat almal van ons vol sonde is (1 Joh. 1:9) wanneer ons redeneer dat ons sonder sonde is, of nie aandeel het in ons huwelik se toestand nie, mislei ons onsself.

Wat om te doen in hierdie fase as jou huwelik nog gered kan word.
1. Erken daar is probleme.
2. Erken en bely jou aandeel.
3. Hou op doen wat jy weet die prognose op ‘n gelukkige huwelik verminder.

Daar is egter soms niks menslik moontlik om te doen om die huwelik te red nie. Hoe vinniger
mens dan van ontkenning na erkenning gaan hoe vinniger is daar moontlikheid van herstel
van die huwelik of emosionele genesing van die persoon.

 

Fase 2- Kwaad wees

Woede is een van die gevoelens van iemand wat deur ‘n rouproses gaan. Die woede fase is ‘n baie belangrike fase in die proses van groei. Dit is belangrik om te onderskei tussen goeie woede en slegte woede. God roep ons om kwaad te wees oor die regte dinge. Ons behoort kwaad te wees oor onreg en sondes teen die mensdom en God. Ons behoort kwaad te wees as iets moois soos ‘n huwelik deur selfsug, sonde of watter rede ook al, verwoes word. Onbeheerste woede, woede wat mens lei tot sonde is verkeerd en moet teen gewaak word.

Die woede fase is baie belangrik want dit help iemand in rou om die onreg te identifiseer, ‘n naam te gee en daadwerklik op te tree daarteen. Party mense wat deur die rouproses gaan, sien woede en kwaad wees as ‘n swakheid en iets waarteen gewaak moet word of soms wat gevrees moet word. So ‘n persoon loop die gevaar om langer deur die rouproses te gaan.

Woede moet uit, bedekte woede en emosies kan negatief werk. Onder woede is ‘n hart wat seergemaak is en besig is om te rou, ‘n verwarde verstand wat smag na sin duiding en ‘n liggaam wat vertroetel en vertroos wil word.

Kwaad wees, kan teen God, vriende, familie, die ex, omstandighede, satan en hulself wees. Dit is belangrik om in hierdie fase te erken dat die hart sterk gevoelens openbaar en dat hierdie gevoelens hanteer moet word, nie vermy of verdoof moet word nie.

Dit is belangrik om in hierdie fase doelbewus die hart ondergeskik te stel aan die verstand en in wysheid te vra vir leiding van God.

Om die emosies uit te skryf en te verbrand of om die slaansak te slaan en met elke hou die emosies van die hart verbaal te openbaar is onder andere metodes wat persone in hierdie fase al gehelp het. Wat egter die beste resultate lewer was om ‘n lewens wyse persoon te vind met ‘n gewillige oor en dan veilige spasies te skep om teenoor so ‘n persoon te getuig van wat werklik in die hart aangaan. Wanneer mens, mens self hoor dinge spreek wat verborge in die hart was skep dit ‘n ‘ek maak skoon’ gevoel. ‘n Emosionele volwasse, lewens wyse Christen sal ook help met raad, bystand en ‘n spoor neerlê sodat hierdie kwaad wees fase nie tot sonde en self vernieling lei nie. Die seer onder die kwaad wees moet aangespreek word, verpak word in die genade wat ons Here Jesus bring om sodoende hoop te kry.

 

Fase 3- Bedinging

Wanneer iemand deur ‘n rouproses gaan is daar ‘n fase waar die persoon met God of die ex begin onderhandel om die impak van die egskeiding of die egskeiding self ongeldig te verklaar. Dit is nie vreemd om te hoor dat iemand wat deur die proses gaan, eers na hul deur die fase is, agterkom dat hul ook besig was met onderhandelings nie. In hierdie fase vind die grootste onderhandeling met God en die huweliksmaat plaas. Die skade of verlies wat die egskeiding bring, is in die fase ‘n gereëlde bekommernis. Wat word van die kinders? Hoe herstel ek finansieel? Wat word van ons drome saam? Hierdie bedingings fase is sekerlik een wat tydens die meeste ander fases ook sy verskyning maak. Ons as christene wil nie God se arm draai of Hom omkoop of manipuleer nie. Ons wil in ons Here Jesus Christus se voetspore stap deur in nederigheid te vra om die lydings beker by ons te vat. Ons bid in geloof dat God ons huwelik sal red of ons met wysheid sal seën om ons kinders te begelei deur die stormwaters.

 

Fase 4- Terneergedruktheid

Wanneer die bedingings fase of die fase van woede, oënskynlik geen vrug aflewer nie of die werklikheid inskop na die fase van ontkenning kom daar gewoonlik ‘n termyn van terneergedruktheid en selfs depressie. Wanneer ‘n persoon deur hierdie fase gaan is dit belangrik om te weet dat terneergedruktheid nie ‘n teken is van klein geloof nie, maar eerder van menslikheid. Elia is vir my sekerlik die mooiste voorbeeld van iemand wat ‘n sterk geloof gehad, God intiem geken het, God se kragtige werking deur Hom ervaar het en steeds terneergedruk was. Hy het in die woestyn gaan lê en was deur totale uitsigloosheid oorweldig (1 Kon 19). Alhoewel Elia se oë geen uitkoms kon sien nie en sy hart hierdeur in ‘n diep donker gat verval het, was God se werking deur Elia nog nie verby nie. God tel Elia op, gee vir hom ‘n nuwe taak, ‘n nuwe lewe, ‘n rede om te bly leef. Die plan, die doel was niks nuuts nie, God was die sterk konstante in Elia se lewe, Elia het ‘n hoop en ‘n rots in sy omstandighede gekry. Dawid aan die ander kant sien die terneergedruktheid van sy hart raak en maak dadelik werk daarvan (Ps. 46). Waar Elia se oë na die lig gedwing word, sy hart versterk word en sy liggaam versorg word deur God, wag Dawid nie op God nie. Dawid dwing sy hart om sy oë te rig op ‘n hoopvolle toekoms en dit is volgens Dawid slegs te kry in hoopvolle aanbidding tot God. Ons kry dieselfde idee in die Nuwe Testament (1 Tessalonisense 4) as Paulus leer dat die Christen anders treur want die Christen het hoop. Jordan Peterson leer dat die Christen nie in hoop glo nie, maar hoop besit. Die Christen het God, het ‘n toekoms en het iets wat met die seer en onreg gebeur. Niks word gemors nie.

 

Fase 5- Aanvaarding

Die laaste fase is die van aanvaarding. Vir die Christen is hierdie fase bietjie anders as vir die nie – Christen. Wanneer ons die Bybel as kompas gebruik vir ons lewe is dit duidelik dat ons menslik moontlik alles in ons vermoë behoort te doen om te versoen of ‘n kanaal tot versoening oop te hou. Die uitsondering is wanneer die ander party ongelowig is, weer trou of dood is. Soos God ons liefhet en getrou bly en telke male weer versoen met ons, so is die huwelik en liefde ook ‘n verbondsverhouding wat ons verbondsverhouding met God weerspieël. Wanneer ons as Christene deur ‘n fase van aanvaarding gaan, dan bedoel ons dat ons vrede vind in God en die wete dat my omstandighede deur God gebruik word tot my eie voordeel.

Partykeer laat God dinge toe wat Hy haat. Louis Giglio beskryf dit so mooi dat sou ons met die kruis gebeure by Golgotha staan en die gebeure vooraf beskou, die vloek, spot, vals beskuldiging en die marteling, dan sou ons dink alles is verby, God het verloor, alles wat ons oog sien is dinge wat God beskryf as wat Hy haat. Maar God het daardie seer, boosheid, en sonde gebruik en Sy almagtige, alles oortreffende krag gebruik om die grootste reddingsdaad wat die wêreld ooit beleef het te bewerk. Paulus praat hiervan in Romeine 8:28 “God laat alle dinge ten goede meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is.” Tipies sal ‘n persoon wat aanvaarding vind, vrede vind in God se vermoë om in hul nood, wat dwerg in vergelyking met die Golgotha gebeure, in sy liefdevolle hande kan stel en tot hul beswil kan vorm.

Dit is gewoonlik in dié fase waar die persoon wat deur die rouproses gaan hul emosionele welstand as “voortdurend ligter” beskou. Hul begin weer hoop kry en begin nuwe drome vorm en najaag. Hul nuwe identiteit word al minder as ‘n las en meer as ‘n roeping gesien. Moontlikhede en geleenthede om God te verheerlik in die hul nuwe realiteit word al hoe meer raakgesien, omhels en gebruik.

 

Voel vry om gerus kontak te maak vir hulp en bystand.

 


Bibliografie

1 Daar is denkstrome wat minder of meer fases het. Elke voorstelling hetsy twee, vyf of 12 fases het gebreke en
sterk punte en moet nie as evangelie beskou word nie. Die skrywer vind die vyf fases prakties en nuttig en
daarom het hy hierdie voorstelling gekies aangepas en verander twv toepaslikheid.

2 Scott LaPrierre – Marriage God’s way.

3 Ons gebruik die Kübler-Ross model. Die skrywer is egter van mening dat die 5 fases nie linieër is nie, maar dat
mense in rou soms spring tussen die fases.