#DieKruis se missie om Oekraïne te help!

Mense van die Ukraine wat hulle vlag ophou

Die gemiddelde mens sou as jy hul vra, sukkel om die land Moldova op die wêreldkaart te vind. Dalk sal dit help om die leidraad te gee dat Moldova ‘n buurland van die Oekraïne is. Moldova is die armste Europese land in die wêreld.

Dis ‘n land waar baie plattelandse dorpe nog nie lopende water het nie en die boere met hul donkies die boerderybedrywighede aan die gang hou. Soos die Oekraïne is, was hierdie hartseer stukkie aarde deel van die voormalige USSR.

Vandag wil ons egter nie oor Moldova praat omdat hul met die grootste ondergrondse wynkelder in die wêreld spog nie (alhoewel dit enige liefhebber van goeie wyn se waardering van hierdie koue stukkie aarde sal laat toeneem), ons wil ook nie praat oor die donkiekarre en mensehandel nie.

Moldova verdien vandag vermelding na my mening omdat die mense van Moldova vandag vermelding verdien. 

Hoe is die Oekraïne en Moldova verbind?

A picture of an urban area in Moldova

As buurland van die Oekraïne, is Moldova vir baie vlugtelinge die enigste uitkoms, dis DIE plek om heen te vlug. Foto’s en video’s wys van toue mense wat poog om deur die grens te kom in ‘n koorsagtige poging om die veiligheid van Moldova te smaak.

Ja, die koue, nat modder gevlekte sneeu is ‘n sussende kombers van veiligheid vir talle bejaardes, siekes, vroue en kinders. Gerugte van tente wat opgeslaan is waar mense kos en warm klere kan kry kom regstreeks deur.

Ja, dis nou diegene wat gelukkig genoeg was om nie teruggestuur te word of wie se vlugtelingpaaie nie met die Russe gekruis het nie. Ons hoor mooi verhale soos dié van ‘n groep van 55 dowes wat gehelp is. Ons hoor hoe mense hul huise oopmaak vir wildvreemde vlugtelinge en wat die bietjie wat hul het, deel.

Dan is daar weer swaarder gerugte soos die van mensehandel en families waar die mans, die broodwinners, hul lewens verloor het op die oorlogsveld, kinders en vroue wat skraps gekleë niks anders as hul paspoort in smekende hande vashou nie. Hierdie gerugte laat mens wonder vir hoeveel generasies gaan die loodswaar letsels van hierdie oorlog gedra word.

In die kakofoniese gewarboel is daar ‘n paar manne en vroue wat sonder vermaak en kolligte die hande en voete is wat dien, wat gee, wat Lig bring in ‘n nagdonker wêreld. Manne en vroue wat nie skroom om lewensgevaarlike dade te doen om mense te bevry nie. Manne en vroue wat kos, klere, huisvesting, tyd en hoop gee. Manne en vroue wat aan talle wys wat die liefde van Christus werklik is.

Hoe is Maldova en DieKruis verbind?

DieKruis Pretoria het Ettiene en Anita van der Merwe in 2018 na Moldova gestuur om sendingwerk te gaan doen. Hulle het drie seuns, Ethan (18), Divan (15) en Joshua (9). Ettiene is betrokke by die opleiding en uitstuur van sendelinge asook die praktiese aspek van sendingwerk. Anita is doenig met berading en sy sien om na die geestelike welstand van die OM Moldova span wat oor 82 volwassenes beskik.

Hulle is ook betrokke by die beplanning van kortermyn uitreike elke jaar in Mei, Junie en Julie.

Moldova is een van Europa se kleinste en armste lande en word omring deur Rusland in die weste en die Oekraïne in die noorde, ooste en suide. Die mees suidelike deel grens amper aan die Swart See.

Op 24 Februarie 2022, het die Van der Merwe gesin se bediening in Moldova handomkeer verander. Dit was die dag waarop die volskaalse land, see en lug aanvalle vanuit Rusland op die Oekraïne begin het. Ettiene en Ethan het dadelik begin om hulp te verleen op die grens tussen Oekraïne en Moldova. Hulle het vir die vrouens en kinders,in baie nat en koue weer, kos en iets warms om te drink voorsien. Ongeag van die gesinne se geloof het hulle, hulle huis oopgestel vir vlugtelinge. 

Al die seuns, ouer as 16, en die mans moes agter bly om te veg. Moeders moes hul jong seuns en mans agter laat met die wete dat hulle dalk nooit weer met mekaar herenig gaan word nie. Teen die tyd wat vrouens en kinders in Moldova aankom, is hulle erg getraumatiseerd. Anita werk hard om hulle emosioneel by te staan.

Tans is dit yskoud in Moldova en die Van der Merwes moet die gas verwarming vir hul huis permanent aanhou om die gesinne wat al reeds deur so baie is, warm te hou. Hulle moet ook vir al die ekstra mense van kos voorsien elke dag. Hierdie is groot onbeplande ekstra uitgawes vir hulle en hulle kort dringend finansiële bystand. 

Ons,as Kruis familie, kan ‘n groot verskil in baie mense se lewens maak deur enige bedrag, hoe klein of groot, in dieKruis se rekening in te betaal en as Oekraïne as verwysing te gebruik.

Die Van der Merwe gesin offer baie op om vreemdelinge soos familie in hul huis te laat voel. Die emosionele uitputting is ook baie moeilik om dag na dag te hanteer. Ons versoek ook dat ons as gemeente vir hulle sal intree in ons gebede.

Hoe kan ek betrokke raak?

Indien jy geld wil skenk, kan jy gerus aan ons skenk. Ons sal dan die volle bedrag oorbetaal aan die manne en vroue wat direk met die vlugtelinge werk en hulle inneem. JOU donasie kan dalk nog ‘n tent of klere of dalk net een gesin se kos vir die maand koop. 

Vir meer inligting kontak Tiaan Jordaan op – 082 521 0480.

Enige donasies sal hartlik waardeer word en kan in die volgende rekening inbetaal word:

DIEKRUIS PRETORIA NPC

FNB – Business Savings Pocket

Rekeningnommer | 62809484306

Takkode | 252145

FNB tak: Verwysing: Oekraine

'n Vlag van Oekraine

Ons belofte aan jou

#dieKruis is ‘n onafhanklike gemeente wat regtig lief is vir God en vir die stad, Pretoria. Ons wil graag soveel as moontlik mense bereik met die Evangelieboodskap. Ons glo in God Drie-Enig en dat Hy ons stuur en toerus om dissipels vir Hom in te win.

“Jy sien…as ons na Oekraïne kyk en ons kyk na wat in ons land aangaan, en ons staan terug en haal God uit die prentjie uit… watter hoop is daar oor? Maar kom ons sit GENADE by, kom ons sit ‘n God by wat sê ‘Ek gaan jou nooit los nie…’, dan kom ons agter: Daar’s tog hoop!”