As my hart wil aarsel – Mattheus 11:25-30

Is dit nie snaaks hoe dit nodig is om telkemale daaraan herinner te word dat God se arms oop vir Sy kinders nie? Soms hoef dit nie eers groot goed te wees nie. Dis nie eers vir ons nodig om moord te pleeg voor ons God se teenwoordigheid in vrees opsoek nie. Vir my is dit die konstante onvermoë om te leef soos wat ek weet God van my verwag. Dis daardie probeer-die-stuurwiel-verwurg-oomblikke en die wakker lê, omdat die “Eisenhower -Matriks” wys, dat ek nog ’n voldag aan dinge, wat nie langtermyn vrugte gaan afwerp nie, spandeer het. Ek’t heeldag soos op ‘n “treadmill” doelbewus met moeite gehardloop en gewerk.

Dis gou dat die kalender en ons harte deur sulke dae swart bevlek en gemerk. Dis gewoonlik dan wanneer God teenwoordig is as die stille effektiewe konstante en die huiwering in my opwek om Hom te nader. Hoe kan ek met so power rapportkaart God se aangesig soek? Hoe kan ek weer na God toe kom met dieselfde probleem waarmee ek maande lank voor Hom worstel?

Dis dan wat Mattheus 11 beter is as die eerste koppie koffie in die môre.

Vers 25 … “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. 26 Ja, Vader, want so het U dit goedgevind.” Ons Here Jesus Christus het gekom vir mense soos ons; swak en met bewustelike onvermoë.

En dan pragtig:

Vers 27 ”Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. 28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. 30 Want my juk is draaglik en my las is lig.”

Ons leer hier dat ons na ons Here Jesus Christus kan kyk en weet wat God die Vader se hart vir ons is. Hier maak Hy sy hart oop op wie Hy is, wanneer dit kom by ons as Sy kinders te verklap. Hy is sagmoedig en nederig van hart en Hy wil hê dat ons Hom moet nader. Hy wil hê dat ons by Hom moet leer hoe om ons lewenspad te stap. Hy wil saam stap, daarom gebruik Hy die juk as ’n voorbeeld. Dane Ortlund het ’n opmerking gemaak dat God Homself daarin verheug wanneer ons, as Sy kinders, Hom gehoorsaam deur te doen wat Hy vra. Hy vra dat ons Hom konstant moet nader – selfs met dit waaroor ons skaam en huiwerig is.